Evangelisasie op verskeie plekke

Wonderlike Evangelisasie Geleenthede

Dankie vir u gebede hierdie week. Die Here is goed vir ons en ons dank Hom vir Sy genade oor ons. Dit is ‘n wonderlike voorreg om in Sy diens te staan. Hier is net kort getuienisse oor die week se Evangelisasie werk.

Dit was die eerste maal wat ek die strate van sentraal Edenvale deurgeloop het. Ek het twee baie kosbare gesprekke gehad. Ek kon lank aan een man die Evangelie verduidelik. Ek kon ook ‘n goeie gesprek hê met ‘n jong JW man.

In Ravensky het ek van deur tot deur gegaan en kon met heelwat mense kort gesprekke hê. ‘n ‘vrou roep vanuit haar huis toe ek oppad terug kar toe is. Sy het my gesien verbyloop vroeer die middag toe ek ‘n traktaatjie in haar posbus gesit het. Ek kon ernstig by haar pleit dat sy nie sal uitstel om Jesus aan te neem as haar Verlosser nie. By een huis was die hek oop gewees. Toe ek ‘n traktaatjie in die posbus wou sit toe storm daar ‘n varkhond uit. Dit was alleen die genade van die Here wat die hond kalm gemaak het.

Ek en Oom Willie het van huis tot huis gegaan en kon ‘n paar mense by hulle huise vind. Die gesprek wat uitgestaan het was met ‘n vrou wat buite ‘n Kerk gesit het. Sy het erken dat sy nie die Here ken nie. Ons kon deeglik met haar die Evangelie deel en sy het geluister. (Wat ‘n voorreg om so op straat met iemand oor Jesus te praat.) Sy was ontvanklik maar nie gereed om na Jesus toe te kom nie. Bid dat sy die traktaatjies sal lees.

Dit is nou ‘n hartseer stuk aarde waar ek vandag Evangelisasie gedoen het. Ek het vinnig vir ‘n jong meisie ‘n traktaatjie gegee en my hart het gebreek toe ek haar toestand sien. Vir sulkes het die Here Jesus gekom. Ek kon ‘n goeie gesprek gehad het met ‘n man van 36. Mag die Here sy siel red! Ek het natgereën en moes toe maar vroeer huis toe gaan as wat ek wou.

Bid asb vir die 400 plus traktaatjies wat in hande geplaas is of in posbusse gesit is. Bid vir ‘n gebroke mensdom wat Jesus nodig het.

Similar Posts