AEB Soek God

Soek God en herinner Hom aan Sy beloftes

Soek God se beloftes

deur: Daniel Marias

Om God se beloftes toe te eien moet ons natuurlik eers weet wat God se beloftes is. Daniël was iemand wat God se beloftes in God se woord raakgesien het al het hy nog nie eers die hele Bybel gehad nie. (Dan9:2) Daniël het ‘n baie spesifieke belofte van God gehad waaraan hy kon vashou. (Jer29:10-14) Daar was ‘n vasgestelde tyd waarin God nie sou luister na enige gebed van herstel nie, maar hierdie tydperk was verby en God het belowe om dan hulle stem te hoor as hulle na God sou roep en Hom met hulle hele hart sou soek. Omdat Daniël geweet het dat hy in God se wil gebid het kon hy aanhou totdat God hom geantwoord het. Wanneer ek weet ek bid volgens God se belofte kan ek net soos Daniël met vrymoedigheid bid.

1 Johannes 5:14  “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.”

Besef God se krag en Sy getrouheid

Hy besef ook God se grootheid en krag, dit wil sê hy glo dat God kan doen wat Hy sê. (Dan9:4) Daniël herinner God ook daaraan dat Hy Sy verbond en sy goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou. Glo jy dat God kan doen en sál doen wat Hy belowe? Deur die gebed kan God se beloftes jou deel word. Hy het ‘n belofte van God gehad en kon dus net sê die Here het mos klaar belowe so waarom sal ek daaroor bid (Dan9:3). Daniël het mooi opgelet en het gesien dat God se belofte ‘n voorwaarde gehad het en dit was dat hulle moes bid. Hy kon gesê het die Here het mos belowe dat hy ons sal herstel en dus kon hy slegs op God se belofte gewag het. Nee maar hy het God gesoek totdat hy antwoord gekry het. Daardie selfde jaar het Koning Kores bevel gegee dat die tempel herbou moes word. Baie van God se beloftes raak net ons deel wanneer ons daarvoor bid.

Jesaja 62:6, 7 “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!”

Hier praat die Here spesifiek van Sy beloftes aangaande Jerusalem, as ons dit moet doen, kan ons sekerlik die Here ook aan ander beloftes herinner.

Lukas 18:1  “En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,” (Gaan lees gerus die hele gedeelte)

Baie van God se beloftes se voorwaarde om dit te ontvang is dat ons daarvoor moet bid. Ons het baie keer nie, omdat ons nie bid nie. Ons bid nie omdat ons nie van God se beloftes weet nie.

Similar Posts