AEB rein van hart

Wat beteken dit om Rein van Hart te wees

‘n Kosbare waarheid

Matthéüs 5:8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Hierdie bly ‘n kosbare belofte wat God ons uit Sy Woord gee. Die wat rein van hart is, hulle sal God sien. Wat beteken dit dat ons God sal sien? Beteken dit alleenlik dat ons hom eendag in die hemel gaan sien of het dit met ons lewe hier op aarde te doen? Ek glo die Here Jesus het hierdie woorde gespreek met betrekking tot ons lewe hier op aarde. Ons sal God op hierdie aarde sien. Maar, hoe sal ons Hom sien as die Woord duidelik in Exodus 33:20 sê:

…Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.

Dit is ‘n moeilike vraag om te beantwoord. Tog glo ek dat ek ‘n antwoord het. Dit is seker nie die enigste antwoord nie maar ek glo dat dit ‘n deel van die antwoord is om hierdie ongelooflike belofte te kan verstaan.

Ons harte is soos ‘n sonbril

As mens ‘n sonbril opsit dan word alles donkerder. Net so word alles groen wanneer mens ‘n bril met groen lense opsit. Ons harte kan soms vergelyk word met ‘n sonbril waardeur ons na die God se werking in ons lewens kyk. Wanneer die lense waardeur ons kyk foutief is, mag ons dalk in ons harte die omstandighede waarna ons kyk beleef asof God in hierdie situasie hard en wreed is. Maar as ons lense reg ingestel is, kyk ons na God deur die oë van ons dierbare Here Jesus en deur Hom sien ons God se liefde raak. Matthéüs 6:22,23 sê:

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.

Wat is die implikasie om rein van hart te wees…

Wat is die implikasie van wat ek hier skrywe? Hoe sien u moeilike omstandighede waardeur u soms moet gaan? Ons omstandighede veroorsaak dikwels hartseer, pyn en die trane; maar sien u die liefdevolle hand van God raak of lyk dit vir u of God hard en genadeloos is? Reinheid van hart gewerk deur die reiniging van die bloed van Jesus Christus maak dat u te midde van u omstandighede God in Sy skoonheid raaksien. Dit vat nie die trane weg nie maar dit maak dit onmoontlik om God se Naam te beswadder in u gedagtes of om bitter te raak oor u omstandighede want Jesus is dierbaar vir u.

Reinheid van hart maak dat ons deur dik en dun God as deel van ons lewens sien. Reinheid van hart gee ons nie die antwoorde op hierdie lewe se moeilike vrae nie maar dit verhinder ons om God die skuld daarvoor te gee. Reinheid van hart is die poort om God te leer ken vir wie Hy is. Reinheid van hart is moontlik deur Jesus se volkome verlossingswerk aan die kruis.

Hoe lyk u hart?

Hoe lyk u hart vandag teenoor God. Sien u Hom as die God wat vir u goed is ten spyte van die hartseer en pyn waardeur u gaan? Kyk wat die Woord sê van koning Jehiskía in 2 Kronieke 32:31:

…God (het)hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was.

Omstandighede openbaar ons harte aan ons. Hoe tree u in die omstandighede waarin u is op? Sien u God se liefdevolle hand raak? As u bitter geword het teenoor God, kom vandag na Hom toe en vra om vergifnis. Pleit die belofte van 1 Johannes 1:9 en die Here sal u vergewe! Hoekom sal Hy u vergewe? Want Hy belowe dat Hy dit sal doen. Vra Hom dan om Homself aan u in u omstandighede te openbaar en u sal die belofte van ‘n rein hart smaak, u sal God sien.

Similar Posts