Antwoord op gebed

Hanna was bedroef

1 Samuel 1:6 En haar mededingster (Peninna) het haar (Hanna) ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het.

Elkana het twee vroue behad, ‘n Gebruik wat ongelukig deel was van Israel in die tyd van die Bybel. Hy het seker beide baie lief gehad. Tog het die twee vroue nie goed oor die weg gekom nie. Waarom nie? Die een, Peninna, het kinders vir Elkana gebaar maar die ander een, Hanna, kon geen kinders kry nie. Peninna was volgens die verhaal nie ‘n baie goeie vrou nie want sy het Hanna geterg instede daarvan om haar by te staan. Hanna het vreeslik hartseer geword.

Vind u uself in situasies waarin u baie ongelukig is? Hanna leer ons wat ons met ons moeilike situasie moet doen.

Hanna neem haar situasie na die Here toe

1 Samuel 1:11 en sy het ‘n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.

In enige moeilike situasie is daar een van twee rigtings waarin ‘n mens kan beweeg. ‘n Mens kan weg van die Here beweeg en Hom daarvoor blameer of ‘n mens kan nader aan die Here beweeg en Sy hulp vra. Hanna het na God toe gekom met haar probleem. Sy het met trane tot God gebid dat die Here vir haar ‘n kind sou gee. Tog was haar gebed nie dat die kind hare sal wees nie. Nee, die antwoord op haar desperate gebed moet eer bring vir die Here.

Bid u oor hierdie situasie wat u so ongelukig maak? Is u gebed selfsugtig? Is u bereid om selfs die antwoord op u gebed aan die Here te gee?

Hanna se aangesig is verander

1 Samuel 1:18 …Die vrou (Hanna) het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders.

Nadat Hanna so ernstig tot die Here gebid het het sy vrede gehad. Sy het geglo dat God sal doen dit wat sy Hom gevra het.

Filippense 4:6-7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (7) En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Hanna gee haar antwoord op gebed aan die Here

1 Samuel 1:28 So staan ek hom dan ook af aan die HERE al die dae wat hy leef; hy is aan die HERE afgestaan. En hy het die HERE daar aanbid.

Hanna se gebed was nie selfsugtig nie. Ja sy was vertroos oor die seun wat die Here haar gegee het maar sy het hom nie vir haarself gehou nie. Nee, sy het hom aan die Here gegee. Dit het beteken dat sy hom seker vir meeste van haar lewe nie gesien het nie maar tog was sy bereid daartoe.

Is u bereid om die antwoord op u gebed aan die Here te gee? As ‘n mens die eer van die Here voor oë het dan kan mens waarlik geloof hê dat die Here sal hoor as oons tot Hom bid.

Similar Posts