AEB Gebed

Christus se Gebed in Johannes 17

Christus se Gebed in Johannes 17

Deur: Louis Gervais

Ek het bietjie gekyk na die gebed van die Here Jesus in Johannes 17 om te sien wat ek kon leer uit hoe Hy met Sy Vader gepraat het kort voor Sy dood en opstanding. Ek het besef die hoofstuk gaan baie oor eenheid: “Ek in hulle en U in My,” –Johannes 17:23a OV

Die hoofstuk kan in drie dele, of drie gebedstema’s ingedeel word:

Vers 1-5 Christus bid oor Homself en Sy Vader.

Vers 6-19 Hy bid oor Sy 11 dissipels.

Vers 20-26 Hy bid vir toekomstige Christene—insluitende ons.

Johannes 17:20-21 is vir my ’n kerngedeelte:

“Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Hierdie gedagte dat Christus in die Vader is en ons in Christus is en Christus in ons is ’n groot focus van die hoofstuk. Die heeltyd word die Christene teenoor die wêreld gestel. Ek’t gaan kyk watter woorde word oor en oor gebruik om daardie deur die mikpunt van die hoofstuk beter raak te sien, en hierdie is wat ek gevind het: (Onthou, die Here Jesus het die hele hoofstuk gespreek tot die Vader.)

  • hulle – 42 (gebruik i.v.m. die dissipels en toe later toekomstige Christene)
  • Ek – 38
  • U – 37
  • My – 22
  • in – 20
  • wêreld – 19
  • gegee – 13 (10 maal het Hy gepraat van iets wat die Vader gegee het en 3 mal oor iets wat Hy, Christus, aan die gelowiges gegee het wat die Vader eers vir Hom gegee het.)
    u – 10
  • Ek bid – 4
  • my – 3

Ek dink ons kan ook regtig die Here Jesus se hart raaksien dat Hy nie net op Homself gefokus het kort voor Sy verskriklike kruisdood nie maar Hy het ’n hart vir die wil van God gehad en Hy het Sy dissipels en die wat deur hulle tot geloof sou kom op die hart gedra. Deur die hele gedeelte verwys Hy na die dade en goeie motiewe van Sy Vader en ek glo ons kan ook daaruit leer. Die Vader is tog in beheer, en Hy moet die middelpunt wees, nie net van ons lewens nie maar van ons gebede ook.

Mag Sy wil geskied in elkeen van ons lewens, nou. Amen.

 

Similar Posts