Armoede van die siel

Wat is armoede

Ek was gister in ‘n dorp waar ek die voorreg gehad het om met baie behoeftige mense in hulle huise die Evangelie te deel. Dankie vir u vrugbare gebede waardeur, ek glo, die Here my lei na behoeftige siele.

Volgens ‘n berig wat ek onlangs gelees het word Suid-Afrikaners net armer en armer. ‘n Mens vind al hoe meer mense op straat wat graag wil werk maar tog geen werk kan vind nie. Mense word uit huise en woonstelle geskop want hulle kan nie hulle huur betaal nie. Twee of drie gesinne bly in een huis met net ‘n laken wat ‘n bietjie privaatheid gee.

Wat is ware armoede

Dit is seker een van die grootste voorregte van my lewe om in sulke huise te kom en aan sulke gesinne die ware Evangelie van Jesus Christus te verkondig. Die Here Jesus vul my met soveel blydskap soos ek versie vir versie aan hulle voorhou om te wys wat hulle ware armoede is. Die armoede nie van aardse besittings nie maar die armoede van n ware lewende verhouding met God deur die Here Jesus Christus.

Armoede van die siel

1 Samuel 2:8 Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.

Effesiers 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

Ware rykdom is nie in besittings nie. Ek kry u so jammer as u nog so dink. Ware rykdom is “alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”. Het u hierdie rykdom? Ek kan nie sê waar hierdie mense met God staan nie. Ek weet net dat ‘n mens in armoede geestelik ryk kan wees. ‘n Mens kan blydskap ervaar en vreugde. Waarom sê ek so? Want dit is wat God in Sy Woord vir ons belowe wanneer ons in ‘n ware lewende verhouding met Hom lewe deur die Here Jesus Christus. Dit is beskikbaar vir u ook. U kan vrede en vreugde ervaar te midde van u omstandighede.

Die mense waarmee ek op straat en in hulle huise mee praat se grootste behoefte is nie hulle aardse armoede nie. Hulle grootste armoede is dat hulle nog nie die Here Jesus as persoonlike Verlosser ontmoet het nie. Bis asseblief saam met ons dat kosbare siele vir Jesus Christus as verlosser sal ontmoet!

Similar Posts