‘n Ware Evangelie dag

Vandag was ‘n ware Evangelie dag. Ons het weggetrek vanaf die stasie en kon weer van kompartement na kompartement gaan en ‘n Evangeliese liedjie sing en daarna preek. Ons het dit seker in 8 verskillende kompartemente deur die dag gedoen. Ons het ook opelug gepreek op die Germiston stasie. Dit was ‘n eerste dat ons so iets gedoen het.

Ons het by Benoni stasie afgeklim. Ons het vêr geloop en met baie mense gepraat. Ons was by een huis/hotel ingewees waar daar seker 30 gesinne in bly. Dit was donker en vuil. Ek het net geweet dat ons vir weke sal huil as ons die stories van elke kamer kon hoor. Ek kon met een Fraanse vroutjie die Evangelie deel. Dit het gelyk of haar hart aangeraak was toe ek haar vertel van die Here se liefde vir verlore sondaars. Prys die Here vir so ‘n geleentheid!

Oppad terug op die trein het een jong blanke man baie aandagtig na die boodskap geluister. Ek het met hom begin praat. Hy het net uit die tronk gekom. Hy wys my toe ‘n Gideon’s Bybeltjie en vertel my hoe die Bybeltjie sy lewe verander het. Ek kon hom uitdaag en bemoedig. Ek het toe my klein Engelse Bybel vir hom gegee. Hierdie was ‘n afspraak van die Here. Bid asb vir Danny.

Ons het weer deur die Jerusalem “informal settlement” geloop en kon met baie mense gesels.

Dankie vir u getroue gebede. Mag die Here u ryklik seën!

Similar Posts