Traktaatjies in Randfondtein

Dit is ‘n groot voorreg om uit te mag gaan en met mense die Evangelie te deel. So kon ek traktaatjies uitdeel in Randfontein. Die hopelose verlore toestand van mense maak mens desperaat en mens roep tot God vir genade. Veral die godsdienstigheid van mense.

Ek het ‘n lang gesprek met ‘n ou moslem man gehad. Ek het hom oor en oor uitgewys op die geregtigheid van God en dat God sonde moet straf. Tog glo hy as hy bid en vra dan vergewe God hom. Ek het hom uitgewys dat hy ‘n kortpad hemel toe probeer kry want, God moet al sy ou sondes straf. Ek vra hom of hy al vandag gesondig het. Nee sê hy, hy bid van 4:00 die oggend tot 8:00. Hy het nog nie vandag gesondig nie.

Die Here het ‘n JW vrou oor my pad gebring omdat sy gedink het ek ‘n JW is. Ek het haar uitgedaag oor die wedergeboorte. Sy het nie eers geweet wat hulle glo oor die wedergeboorte nie. Ek hoop en bid dat my woorde in haar hart ingegaan het. Sy moet weergebore word!

Ek het met ‘n jongman gepraat wat in die tronk groot geword het. Hy was baie jare in die tronk oor diefstal, “hijacking”, dwelms en wat nie nog meer nie. DIt was wonderlik om hom van Jesus te vertel. Die Here het ‘n man in die trein oor my pad gebring wat op die straathoek staan en bedel. Hierdie man “rock&roll” alles. Ek moes ‘n paar maal my lag inhou. Tog toe ek praat oor die wedergeboorte het hy baie stil geword en ek kon sien die boodskap slaan sy hart.

Dankie vir u gebede. Ek het waarlik deur die Here se genade baie goeie gesprekke gehad en kon honderde traktaatjies uitdeel. Bid asb saam op vrug op die arbeid. Bid asb ook vir more se Evangelisasie in Kempton Park. Bid ook vir die opening by die skool more aand. Geseende naweek! Vertrou die Here om hierdie naweek met een siel oor Jesus te praat 🙂

Similar Posts