Sy glo nie in God

Ons het ‘n gesprek met ‘n jong dame en vier seuns gehad. Sy het sommer by die vertrek punt gesê sy glo nie in God nie. Ek het haar ‘n paar dinge vertel en haar patent gemaak dat ek weet Jesus lewe want Hy het my radikaal verander by my wedergeboorte. Haar hart was ontvanklik en sy het met graagte ‘n Evangelie van Johannes geneem.

Dit is wonderlik om te sien hoe die Here behoeftige siele oor ons pad bring. Terwyl ons die straat afloop kom daar ‘n man van voor af. Hy het net uit die tronk gekom. Hy het ook net vanoggend gebid dat hy sy lewe met Jesus wil regmaak. Ons het die Evangelie verduidelik en hy was in trane toe ons klaar gebid het. Hy het gesê hy gaan my kontak.

Die hartseerste van die dag was twee jongmans waarmee ek begin praat het op Park stasie. Sommer terwyl ek met hulle praat kom die naald uit en hulle deel sommer dieselfde naald. Hulle verhale is hartskeurend. Beide tusssen 25 en 30 en beide was al in die tronk. Met gebrokenheid het ek hulle gesoebat om Jesus ‘n kans te gee.

Ai die gebrokenheid van ons samelewing. Elke maal was ek verneder in die stof. Dankie vir u getroue gebede!

Similar Posts