AEB Pelgrim Preek

Pelgrimtoer Balfour en Greylingstad

Openinge in Balfour

Die eerste been van ons pelgrimtoer het begin in Balfour en Greylingstad. Balfour was die heel eerste dorpie wat ons ingevaar het waar die Hoër- en- Laërskool ons hoof fokuspunt was. Die Dinsdag oggend vroeg het ons by beide groepe kinders geopen met gebed, ‘n kort boodskappie en liedjies saamgesing. Ten einde om die liedere vir hulle te leer het ek en Daniël maar ‘n hele paar “solos” gelewer wat die kinders omtrent vermaaklik gevind het aangesien jou stem nou nie regtig op sy beste so vroeg in die oggend is nie en nogal sonder enige oefening! Dit was egter kosbaar om te sien hoe selfs die liedere die aangespreek en uitgedaag het en hoe dit ook makliker was om die boodskappe duidelik te maak deur die liedere se woorde as voorbeeld te gebruik.

Die volgende dag was ons weer terug en het ‘n periode soortgelyk aan CSV waargeneem waar ons ‘n halfuur met beide ouderdomsgroepe apart gehad het. Dit was wonderlik om te sien hoe aandagtig die kinders geluister het, veral toe ons die geleentheid gebruik het om ons getuienisse te deel. Onder die hoërskool kinders het ons ook uitnodigings uitgedeel na ons jeugkamp later die jaar en die kinders het letterlik toue gestaan om een te kry. Party het selfs bietjie later uit hul klasse gesluip om weer te kom haal om vir ander te gee. Ons eer die Here vir die oop deure en vertrou dat Hy die na-prediker van Sy Woord sal wees en dat die belangstelling in die jeugkamp  ook resultate sal lewer.

Straatwerk in die reën in Greylingstad

Woensdag die 21ste is ons na Greylingstad waar ons ten spyte van die wind en weer bietjie straatwerk gedoen het en in die proses maar bietjie nat geword het. Louis het ‘n gesprek met een dame gehad wie ons verwys het na die eienaar van ‘n gastehuis in die dorp. Ons het haar gaan besoek en uiteindelik is ons daar weg met ‘n moontlikheid van verblyf vir die toekoms in die dorp, iets wat ons nie vantevore gehad het nie. Ons eer maar net die Here vir Sy leiding en voorsiening!!

Similar Posts