AEB Pelgrim Louis Gervais Preek

Die Pelgrims se week in Standerton

Die Pelgrims se week in Standerton

Heel week was ons in Standerton besig met verskillende openinge en geleenthede. Die 26ste, wat op ‘n Dinsdag geval het, het ons vir die eerste keer ‘n opening waargeneem by ‘n sekere laërskool in die dorp. Dit was die eerste keer wat ons ‘n geleentheid by die skool  kon waarneem wat ‘n taamlike groot geleentheid was met oor die seshonderd kinders. Daar is ons ook baie vriendelik ontvang en deur die hoof versoek om weer terug te kom. Die manier hoe die Here gewerk het by die opening was vir my kosbaar, u kan self dink, seshonderd klein kinders wie saamgepak is in ‘n kleinerige saal. Amper wil ek sê die wet van natuur wil mos eintlik sê dat dit feitlik onmoontlik sal wees om jouself eers te hoor dink, vergeet nog van ‘n boodskap aanbied. Ek het spesifiek voor die opening gebid dat die Here tog die atmosfeer sal oorheers en beheer sodat ons darem ‘n billike kans sou kan kry om die evangelie doeltreffend aan te bied. Weereens was die Here getrou en het die kinders  goed geluister en was oor die algemeen ‘n baie lekker gehoor.

Marathon opening en liedere by ‘n ouetehuis

Die Woensdag het ons ‘n “marathon” opening waargeneem van twee ure lank by ‘n meisieskool se koshuis. Baie van hulle kom maar uit moeilike, slegte omstandighede uit en dit was wonderlik om soveel tyd te hê om die evangelie op ‘n deeglike manier met hul deur te werk. Natuurlik kan jy nie ‘n dorp behoorlik deurwerk as jy nie ook by die ouetehuis ook ‘n draai gaan maak het nie en dit is waar Donderdag ons bevind het. Ons het ‘n afspraak gehad om ‘n diens vir die oumensies te kom aanbied en het heel plegtig ‘n lang program gereed gehad. Die oggend was egter baie koud en toe daag daar net drie tannies op vir die diens terwyl die res van die inwoners nie kans gesien het vir die koue nie. Getalle is natuurlik egter nie die rede hoekom ons die werk doen wat ons doen nie en ons het voortgegaan met die diens. Na die tyd het die matrone ons kom vra of ons nie deur die gange sal beweeg en vir die ander inwoners ‘n paar liedere sal sing nie. So gesê so gedaan en sodoende het ons weereens beleef hoe wonderlik dit is wanneer die Here ingryp en jou program vir jou reël. Die dankbaarheid en geluk op daardie oumensies se gesigte was genoeg om mens te laat huil, soveel het oor en oor kom dankie sê en dit maar net vir ‘n paar eenvoudige liedere. Dit het vir ons die geleentheid gegee om saam met ‘n paar van hulle ‘n bietjie te gesels en ook te bid. Alle eer aan die Here!!

Die Here oorheers in chaos

Vrydag die 29ste het ons nog ‘n splinternuwe opening waargeneem by ‘n gemengde hoër-en-laërskool net buitekant die dorp in die nedersetting. Omtrent seshonderd kinders het saamgepak gestaan in die skool se opelug vierkant, die klank sisteem was nie die beste in die wêreld nie, die dissipline onder die kinders nog swakker en die hele situasie het nie veel goed voorspel nie. Een van die onderwysers het ons voorgestel en onmiddelik het daar chaos uitgebreek, die kinders het gelag en elkeen het een of ander opinie gehad om oor ons uit te spreek. Die arme onderwyser het omtrent gesukkel om ‘n mate van ordelikheid weer te herwin. In daardie oomblikke het ek maar net weer na die Here geroep en Hom gevra om tog beheer van die situasie te neem sodat die boodskap tog duidelik sou kon uitgaan. Die oomblik toe ons oorgeneem het het daar ‘n onmiddelike verandering in die atmosfeer plaasgevind en die kinders het aandagtig na die boodskap en getuienis geluister wat ons voorgedra het. Die Here bly getrou!!

Preekgeleenthede in Kerke

Sondag die 28ste het ons span preekgeleenthede in die EG kerke van Standerton en Ermelo en die Here was werklik weereens goed vir ons. Verskeie mense het getuig van seën wat hul deur die boodskappe ontvang het, o.a. die een van die dominees self wie gesê het dat die een spesifieke boodskap net vir hom bedoel was. Alle eer aan die Here!!

 

Similar Posts