Dink aan my

7de Januarie – dink aan my

Dink aan my

7de Januarie

Lei my vanoggend Here Jesus

Dink aan my – my verlange

Dink, my God, my ten goede…

Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in ‘n onbesaaide land. — Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ‘n ewige verbond oprig. — Ek (sal) op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. — Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê, aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal; — Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.

Nehemia 5:19; Jeremia 2:2; Esegiel 16:60; Jeremia 29:10-11; Jesaja 55:9; Job 5:8-9; Psalm 40:6

Neh 5:19; Jer 2:2; Ese 16:60; Jer. 29:10-11; Jes 55:9; Job 5:8-9; Psalm 40:6

Lei my vannaand Here Jesus

Dink aan my – God se belofte aan Sy kind

Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.

Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom. — God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou… — Hy dink vir ewig aan sy verbond.

Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer…

Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.
Josua 1:5; Josua 21:45; Numeri 23:19; Deuteronomium 7:9; Psalm 111:5; Jesaja 49:15-16; Safanja 3:17

Jos 1:5; Jos 21:45; Num 23:19; Deut 7:9; Psa 111:5; Jes 49:15-16; Saf 3:17

Lei my deur u knegte

“MAAR EEN DING DOEN EK …”

“Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom …” Filippense 3:7-14.

Tussen die baie dinge wat jy doen, moet daar één soos ’n toring bo alle dakke vir jou uitstaan! As ’n soekende siel uiteindelik by Jesus Christus, die ware Bron uitkom, is dit asof sy geestesoog skielik, vir die eerste keer, oopgaan. Met verwondering ontdek hy sy nuwe omgewing, geselskap en omstandighede in die “huis van sy Vader.” Ook dat sy wonderlike Verlosser, die Here Jesus, ál sy verwagtings ver oortref! Dit maak hom weer en nog meer dors, met één allesoorheersende, intense drang na méér gelykvormigheid aan die beeld en gesindheid van Christus en ’n intense verlange om Hom steeds beter in al sy reinheid, skoonheid, opregtheid en teerheid te leer ken.

God openbaar sy ware karakter

Dit maak hom egter ook benoud, want nou begin hierdie nuwe skepsel in Christus ook die ware karakter van God in die lig van sy heiligheid en van Jesus se gesindheid, te ontdek. Hy besef hoeveel dit hom nog aan die deurskynende opregtheid, die onberispelike heiligheid van God en die egte gesindheid van Christus ontbreek; daarom voel hy steeds effe ontuis in God se teenwoordigheid.

God openbaar sy ware karakter

Dit maak hom egter ook benoud, want nou begin hierdie nuwe skepsel in Christus ook die ware karakter van God in die lig van sy heiligheid en van Jesus se gesindheid, te ontdek.

Hy besef hoeveel dit hom nog aan die deurskynende opregtheid, die onberispelike heiligheid van God en die egte gesindheid van Christus ontbreek; daarom voel hy steeds effe ontuis in God se teenwoordigheid.

Die nuwe goddelike natuur se verlange

Maar die goddelike natuur waarvan hy deur die wedergeboorte ’n deelgenoot geword het, laat hom juis al hoe meer intens na dié heiligheid en dié gesindheid verlang! Hierdie sterk dors, “sodat ek Hóm kan ken …” (Filippense 3:10), het vir Paulus beweeg om drie dinge te doen wat in werklikheid drie-in-een was. “Een ding doen ek …: ek maak my los … ek strek my uit … ek span my in …!” Voorwaar kragtige woorde, maar dan is die wedloop ook nie kinderspeletjies nie! Daarom beskryf Paulus sy eie houding op die renbaan so. Hy is vry van wat agter is, vas aan wat voor is, ingestel op wat bo is en besig met wat byderhand is.

Voor is die wenstreep en die prys wat vir die wenner wag! Paulus was met een ding besig – om één Persoon beter te leer ken, te behaag, bo almal te vertrou en meer lief te hê as die lewe self! Vir Hóm het hy alles verlaat, alles ingespan en sy lewe roekeloos op die spel geplaas. Sy geheim was dat sy bewondering vir Jesus Christus altyd net meer en meer toegeneem het.

Pieter Scholtz


Januarie

Similar Posts