Gebed in Moses se lewe
Gebed in Moses se lewe
Deur: Jan Moster
As kinders van die Here moet dit tog ons grootste begeerte wees om ‘n intieme verhouding met die Here te hê. In die Bybel is daar soveel verhale van groot godsmanne en godsvroue wat werklik met die Here gepraat het asof Hy hul vriend was en hul werklik enigiets vir Hom kon vra. Somtyds in vandag se lewe kom ‘n mens in ‘n situasie waar jy werklik nie weet watter kant toe nie en dit voel asof die Here nie hoor nie of ons maar net nie antwoord nie. In Exodus 32-33 vind ons ‘n paar geheime van Moses se verhouding met die Here.
In hierdie hoofstukke lees ons van die hartseer verhaal waar die volk van Israel die goue kalf aanbid het. Terwyl hul daarmee besig was was Moses op die berg besig om met die Here te praat. Die Here het hom toe vertel waarmee die volk besig was en Moses het begin terug beweeg kamp toe. Halfpad teen die berg af het hy sy dienaar Josua daar ontmoet, wie heeltyd daar vir hom gesit en wag het.
Eksodus 32:17, 18 En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar is oorlogsgeraas in die laer. Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.
Wat vir my kosbaar is in die gedeelte is dat Moses en Josua presies dieselfde geluide gehoor het maar dat Moses die een was wat die regte afleiding kon maak. Die rede hiervoor was dat hy alreeds dit by die Here gehoor het! Hy het tyd spandeer in die teenwoordigheid van die Here daarom het hy insig gehad wat Josua nie gehad het nie! Hoe belangrik is dit tog nie om tyd te maak vir die Here nie sodat ons meer insig en wysheid kan ontvang om die regte afleidings en keuses te kan maak in hierdie lewe!
Eksodus 33:4 – 6 Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie. Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is ‘n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen. Toe het die kinders van Israel hulleself beroof van hul versiersels, van die berg Horeb af.
Die “onheilspellende woorde” wat hier van gepraat word is toe die Here gesê Hy sal nie meer saam met die volk trek nie as gevolg van die goue kalf wat hul gemaak het. Ons sien in die verse hoe daar twee keer gepraat word van versiersels wat eenkant gesit word. Die woordjie “beroof” in die tweede geval dui egter daarop dat die volk hul versiersels so verniel het dat hul dit nooit weer sou kon dra nie. Ons moet dieselfde gesindheid hê wanneer ons tot die Here nader. Ons moet bereid wees om so te breek met alles wat Hom nie behaag nie dat ons nooit weer daarna sal kan terugkeer nie. Eers dan kan ons so ‘n noue, intieme verhouding met die Here hê.
Wil u ‘n intieme verhouding met God hê?