Waarom traktaatjies

Waarom traktaatjies? Suné het my daarop gewys dat dit belangrik is om uit te brei oor die traktaatjies wat ek maak. As u enigsins belangstel in ons werk en daarvoor bid, lees asb hierdie skryfstuk aandagtig deur. Dis n bietjie lank, ek is jammer daarvoor.

Eerstens, die rede vir die traktaatjies: Elke dag, seker ‘n paar maal per dag, dink ek oor die magdom mense in my distrik in die AEB. Dit skep ‘n diepe verlange in my hart om hierdie mense te bereik. My hart is gebroke soos ek deur die genade van die Here met honderde mense praat en vir een oomblik ‘n kykie kry in hulle lewens. Dan dink ek dat elke mens waarmee ek praat verteenwoordig ‘n gemeenskap. Hoe bereik mens so ‘n magdom mense? Die ewigheid is ‘n vreeslike werklikheid. Glo ons werklik in die hel?

Dit is waar my hoop in God is dat Hy die traktaatjies wat ek skrywe sal gebruik. Ek kan met honderde mense praat maar daar loop tien duisende mense verby my met wie ek nie kan praat nie. Een mens kan net soveel doen.

Ons glo dat die traktaatjies lewende saad is wat gesaai word. Ons glo dat een traktaatjie van hand tot hand kan gaan en twee of drie mense kan bereik. Ons glo dat die Here iemand na ‘n asblik toe kan lei om ‘n weggegooide traktaatjie daar te vind. Ons glo dat ‘n Ma ‘n traktaatjie in haar seun se broeksak kan vind en so by die Here uit kan kom. Wie weet?

Uit die aard van die saak wil ons graag mooi traktaatjies uitdeel, iets wat die oog van mense sal vang. Dit moet so mooi wees dat die persoon te sleg sal voel om dit weg te gooi. Ongelukkig die oomblik as mens kleur begin druk dan begin drukwerk baie duur word. Daarom dink ek baie hoe mens pragtige kleurvolle traktaatjies kan maak wat bekostigbaar is sodat mens dit in groot maat kan uitdeel.

My eerste traktaatjie is ‘n A6 boekie met 16 blaaie. Daarin het ek probeer om so eenvoudig as moontlik die Evangelie te verduidelik. Daarin is ook riglyne oor wat om te doen as mens die Here gevind het soos byvoorbeeld hoe mens die Bybel kan lees. Van hierdie traktaatjie het ons seker al oor die 3000 uitgedeel.

Met tyd het ek gesien dat ek nie die boekie net links en regs kan uitdeel nie. Omdat ek die boekie self maak vat dit redelik tyd om ‘n groot hoeveelheid te maak. Dit is toe dat die Here my die idee gegee het om poskaart traktaatjies te maak. Van hulle het ek nou al vyf verskillendes gemaak. Hiervan het ons seker al 15 000 uitgedeel. Suné het ook ‘n kindertraktaatjie gemaak waarvan die eerste 5000 aan mense gegee is wat dit in kindertjies se hande sal plaas en waarop ons al baie goeie terugvoer ontvang het.

Ek het aanlyn ‘n maatskappy gevind wat teen ‘n baie bekostigbare prys hoë kwaliteit kleur poskaarte kan druk. Een van hierdie poskaarte kos 22c om te laat druk.

n Paar aande gelede het die Here (ek glo) ‘n nuwe idee vir ‘n traktaatjie vir my kom gee. Hierdie traktaatjie gaan op ‘n A4 papier gedruk word. Die een kant gaan ‘n pragtige volkleur foto hê met ‘n gedagte en teksverse op. Die traktaatjie gaan in ‘n “z” gevou word wat my dan aan die ander kant drie kolomme gee om ‘n Evangeliese boodskap in te skrywe. Dit sal ‘n traktaatjie wees wat makliker is om te druk en minder tyd neem as die ander boekie-tipe, wat ek steeds sal druk en versprei, maar meer versigtig omrede ek beperkte tyd het vir alles.

Om 5000 traktaatjie in ‘n “z” te vou moet ek dit of self vou, of iemand moet dit vir my vou, of ek moet ‘n masjien kry wat dit vir my kan vou. Sulke masjiene is baie duur maar die Here het in sy genade vir ons die opsie gegee om ‘n baie goeie een te kan koop vir ‘n spotgoedkoop prys. Prys die Here!

Dit alles het een doel: dat kosbare siele by die Here Jesus sal uitkom. Deur die genade van die Here voorsien Hy vir ons om al hierdie projekte te finansier en aan die gang te hou. Ek eer Hom daarvoor want dit bewys net verder dat Hy ook in hierdie saak is. Ons kry wonderlike terugvoer van mense wat die verskeie traktaatjies gelees het en selfs by die Here Jesus uitgekom het. Alle eer aan Hom!

Tien miljoen mense! Besef ons werklik dat hierdie tien miljoen mense wat in Johannesburg, die Oosrand en die Wesrand bly ewige siele het? Glo ons werklik in die hel?

Daar is aan ons ‘n opdrag gegee deur die Here Jesus: Mattheus 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies… William Booth het gesê: “Gaan staan by die hekke van die hel, en hoor hoe die vervloektes jou smeek om na hul vaders se huise te gaan en by hulle broers en susters en werkers en base te pleit dat hulle nie in hierdie plek moet opeindig nie.”

Ons Here Jesus is alleen die antwoord en dis ons begeerte dat mense Hom sal leer ken en so waarlik weergebore word.

Similar Posts