Straatwerk uitreik

Ek het gister en vandag ‘n baie geseënde tyd gehad tydens my straatwerk uitreik. Ek het Vrydag 8:00 op die trein geklim om tot by Germiston stasie te ry. Ek het ‘n paar kort geselsskappe aangeknoop en baie traktaatjies uitgedeel. Toe ek afklim van die trein toe kom daar ‘n jongman na my toe en bedank my. Hy sê toe dat toe ek uit die kompartement gegaan het na die volgende een toe, toe kyk hy na die ander mense wat in die kompartement was. Almal van hulle was besig om die traktaatjies te lees. Dit het my regtig bemoedig.

My Springs trein het nie opgedaag nie; ek loop toe huis toe vanaf Germiston stasie. Ek kon baie traktaatjies uitdeel. In Marlands begin ek toe met ‘n Oom praat. Hy het my ingenooi in sy huis in en ek kon lank met hom praat oor die Evangelie. Hy het sy eie idees gehad maar die Here het my soveel wysheid gegee om hom te antwoord.

Vandag se uitreik na Vrededorp was uiters geseënd gewees. Twee mense het my en my medewerker bykans gesmeek dat ons weer moet kom. Hulle kan ons nie vertel hoe nodig Vrededorp dit het nie. Dit het waarlik soos ‘n Macedoniese roep na hulp geklink.

Ons het met ‘n groep mense begin praat. ‘n Jongmeisie met digte swart hare het nader gestaan toe sy hoor ons praat oor Jesus. Sy vertel ons toe dat sy twee weke gelede vir die eerste keer in haar lewe kerk toe is. Mens kon letterlik sien hoe sy elke woord indrink wat ons oor die Here Jesus gespreek het. Toe ons wegloop toe kyk ek terug en sien haar sit op die sypaadjie besig om my boekie te lees. Wonderlik!

Similar Posts